Hier volg nou 'n opstel oor die tipiese smous-vergadering. Ek is mos nou 'n ervare wêreldreisiger, (was nou al op twee kontinente op die aardbol, kan jy glo?) en kan met outoriteit verklaar dat hierdie tipe ding regoor die wêreld dieselfde vorm aanneem:
Dis nou nie een van daai interne vergaderings by die kantoor nie, dis een van daais waar die suppliers kom om een of ander produk te smous aan jou maatskappy.
Supplier bel eers een van die arme skepsels wat by jou maatskappy werk, wie se nommer hy op een of ander obskure manier in die hande gekry het. Hierdie perde hang by elke konferensie rond en slurp besigheidskaartjies op. As hulle jou naam een keer gekry het, is dit tickets - jy kan maar net sowel bedank en vir 'n ander maatskappy gaan werk, want dis al manier hoe jy hierdie aasvoël van jou rug af gaan kry. En moenie dat hy uitvind waar jy nou werk nie, want dan blink sy ogies nog groter...
Aasvoël reël 'n dag en 'n datum, en nou moet jy bontstaan. Eerstens moet jy die ander ouens by die werk oortuig dat hulle ook na Aasvoël se presentasie wil kom kyk. Almal belowe hulle sal daar wees - jy sien jy moet nou 'n groter konferensiekamer kry, want die een met die 4 stoele is nie groot genoeg nie. Jy tref allerhande reëlings en dreig hier en soebat daar, en uiteindelik kry jy die groot konferensiekamer met die oorhoofse projektor en al die fancy witborde en TV screens.
Die dag breek aan, en al jou kollegas wil weet waar is die Aasvoël dan nou? Jy hol rond en soek vir Aasvoël. Aasvoël is by 'n ander maatskappy wat blykbaar vreeslike belangstelling in sy produk toon, en daag 15 minute laat op. Nou begin die sports.
Net 10% van die kollegas wat hand en mond belowe het hulle gaan kom, daag op. Die ander het almal een of ander lam verskoning, of is net skoon weg.
Aasvoël maak een van sy groot sakke oop. Hy haal sy laptop uit. Hy prop die projektor se kabel by sy laptop se agterent in. Hy sit die laptop aan, en windows se deuntjie weergalm oor die vlaktes.
Die projektor wys net blou lug.
Almal begin raad gee. "Druk F4, ALT en Ctrl almal gelyk, en met jou vierde hand druk jy dan enter. Dit sal die probleem oplos."
Dit werk nie.
Arme Aasvoël sweet nou al. Hy het swaar gedra aan al sy tasse met fancy produkte, maar sonder die Powerpoint presentation is hy useless. Hy kan nie eens dink aan iets snaaks om te sê nie.
Oral word nou drade geruk en pluk, en dan gebeur die onvermydelike: een of ander aap kry die projektor se remote in die hande. Hemel behoed ons, hier gaan ons vandag niks gedoen kry nie. Hoekom is dit altyd die mees on-rekenaargeletterde aap wat begin karring aan die rekenaar en dan die domste ou op site wat nog die remote ook gryp?
Teen hierdie tyd staan ek eers op en gaan maak koffie. Dit gaan 'n lang dag wees hierdie.
Terug in die groot konferensiekamer maak almal sarkastiese grappies oor jy dan nou nie vir hulle ook koffie gemaak het nie. Eish.
Na 'n halfuur se gesukkel is die projektor uiteindelik aan die gang, en ons sien Windows se logo wat tentoongestel word op die Groot skerm. Halleluja, hier gaan nou iets gebeur.
Aasvoël begin verduidelik dat sy maatskappy al in 1815 gestig is deur die eerste ingenieur wat gedink het daaraan om een of ander slim ding met stoom te doen. Sedertdien het hierdie maatskappy gegroei en die hele Amerika van hoë presisie instrumente voorsien. Selfs NASA en die Atoombomprojek het hulle toerusting gebruik. Die maatskappy het intussen uitgebrei en is nou "global", en het 789 duisend mense wat vir hulle werk in 834 lande regoor die aardbol. Hulle turnover is in die triljoene US dollars. Hulle ontwerp al hulle produkte met trots in Amerika, maar dit word in China gebou, getoets, geverf en verpak. (Bestaan daar nog enige noemenswaardige produk in die wêreld wat nie in China aanmekaar-geflans word nie?)
Hulle logo is baie fancy en hulle het selfs kantore met 24-uur backup service in Iran. Al hulle produkte is natuurlik Kosher, Halaal en deur die Pous homself ingeseën met heilige water wat ISO9001 approval het.
Net jammer ek het in my lewe nog nooit van hierdie maatskappy gehoor nie. Waar was hulle die vorige 13 jaar van my loopbaan?
Soos wat die vergadering aangaan, kom ander tipiese insidente altyd voor. Ou Koos sit en knik heeltyd hier langs my en sê elke nou en dan "uh". Hy het nog nooit in sy lewe deur een vergadering gegaan sonder om uit te pass van verveeldheid nie. Na arme Aasvoël so driekwart deur sy briljante stukkie Powerpoint- geassisteerde mondelinge voorlegging is, skrik Koos wakker en begin vrae vra oor goed wat Aasvoël al lank terug in detail vir ons almal verduidelik het.
En daar is altyd die nerd, wat net soos die skool-nerd altyd stupid vrae vra en die vergadering uitrek tot vervelens toe. Ek moet erken, party keer speel ek die rol van hierdie ou. Wat vir een ou interessant is, is ongelukkig die volgende ou se hipnose-terapie. Ons almal het gelukkig 'n rol om te vervul in die samelewing.
Uiteindelik is Aasvoël klaar, en - as hy 'n goeie aasvoël is - kry jy dalk nog 'n liniaal of 'n pen met sy Aasvoël logo daarop. Hy deel sy besigheidskaartjie uit aan almal, en glimlag breed as ander ouens dieselfde aan hom doen. Nog name op sy lys.
Hy belowe om more terug te kom met antwoorde vir al die moeilike vrae wat die nerd gevra het, maar almal weet hy het nie eens 'n clue wat die vraag was nie - nes al die ander mense in die konferensiekamer het hy maar net geknik en hom probeer slim hou.
Ten minste het ek (partykeer) na so 'n vergadering nog 'n pen of liniaal wat my kinders binnekort weer uit my laai gaan steel.
Jare terug het ek 'n aanbod gekry om 'n "sales-engineer" by 'n vreeslike bekende Duitse globale maatskappy te word. Ek het dit gelukkig nie aanvaar nie. Ek kan nie aan iets erger dink as om Aasvoël se job te moet he nie. Soos ek gesê het - ons almal het 'n rol om te vervul. En ek weet ek sal nie daai job geniet nie.
Sterkte aan al die Aasvoëls daar buite - ek haal my hoed af vir julle.