Monday, October 10, 2011

Die Hayena op die Dak en die Diepste Stilte.

Daar het so baie gebeur dat ek nie lekka weet waar om te begin nie - die 'ontwakings proses' was/is 'n onglooflike ding. Noudat ek weer in kleur sien, seker vir die eerste keer in amper ek weet nie hoe lank nie, voel dit asof die hele lewe 'n waterlelie in stille waters is.

Die Hayena oppie Dak:

Dit het baie soeke gevat, baie spoorsny deur onmoontlike donker plekke, baie in die donker gesit en wag - ek het die gedierte gekry. 'n Bang sku gedierte is dit met 'n reuk wat jy nie gou vergeet nie. Hy was ook nie daar buite nie, maar iewerste binnekant. Op 'n baie harde manier het ek geleer dat die gedierte nooit daar buite oppie dak was nie, maar altyd hier binne. Ook is daar geleer dat die gedierte nie van die lig hou nie - hou niks daarvan as jy na hom kyk nie. Sien, jy moet net vinnig wees, hom vang voor hy met sy gelag en gehuil begin, hom reg in die oë kyk - dan sal jy ok wees.

Die Diepste Stilte:

Meeste mense vandag weet nie meer wat stilte is nie, baie is bang daarvoor. Die diepste stilte wat die waterlelie en die kameeldoring omring wys vir jou wat die mooiste mooi is. Alles kom vanuit stilte en daar is 'n baie diep stilte in elke mens en in elke vorm in die heelal. Daar is ook geleer dat sodra jy die hayena se gelag kan stop, dan kan jy die diepste stilte in jouself voel - dieselfde stilte waar ons vandaan kom en waarheen ons weer eendag sal terug keer ........ die stilte wat orals om ons is.

Die 'I' ennie 'Self:'

Hoeveel keer het jy nie die al gehoor nie of self oor jou lippe laat vloei nie: "I hate myself" of "I can't live with myself."

Hoeveel mense is daar binne? Wie is die "I" en wie is die "self?" Is daar een of is daar twee? Is altwee 'insane' of is dit net die een wat mal koppie is? Waar kom hulle vandaan? Ek het geleer dat die een die Diepste Stilte is en die anner een die hayena oppie dak. Die hayena hou daarvan om die show oor te neem, die heeldag te giggel en tjank - sodat daar nie stilte kan wees nie. Die "self" neem oor en die stilte word nooit 'gehoor' nie.

Die Liefde:

"True love doesn't have a happy ending, because true love never ends."

Dit is iets wat ek nog altyd geweet het, die dat ek nog nooit in my lewe ou geliefdes kon 'afskryf' nie. My liefde het nog nooit in haat verander nie - ongelukkig werk dit nie so met almal nie. Die hayena in jou kan ook 'lief' hê .......... dit verander gewoonlik vinnig in haat. Die ware dieper liefde het nie 'n teenoorgestelde nie, want dit kom vanuit die diepste stilte.

Die soeke na 'iets' in iemand anderste se diepste blou oë, is die soeke na die iets wat jy reeds het, maar nie weet waar dit is nie - alhoewel dit reeds diep binne jou is, maar gemasker word deur die getjank van die hayena.

As jy die Diepste Stilte, jou Inner Self nog nie gevind het nie, moet nie verwag dat jy dit in iemand anderste gaan kry nie. Die 'emptiness' sal altyd daar wees. Vind eers jouself voordat jy na iemand anderste gaan soek.

Borrelende Geluk in 'n Donker Wolk:

Saterdag oggend gaan hardloop ek vroeg - die aarde is nat en daar is so 'n ligte nat mis wat in stilte alles omring. Skielik ........... kom die son deur die wolke en alles breek deur in kleur. Die groenste groen aan die voet van die donker graniet koppe en die donkerste wolk met 'n goue rand raak saggies aan die hoogste koppe.

Op daardie oomblik was die hayena stil, want ek het hom in die oë gekyk - geluk in 'n spontane borrelende lag breek deur my bors. Dit kom uit die stilte, as gevolg van die stilte en breek die oggend stilte. 'n Ongelooflike gevoel. Wanneer laas in my lewe het ek so gevoel?

Ek kan tye onthou waar ek kaalgat in die Kavango rond gehardloop het met 'n boog, pyle met fisant vere - tye waar ek absoluut in die 'oomblik' was. As jy in die oomblik is, is daar nie plek vir 'n hayena nie ............ selfs die hayena word dan gedwing om die diepste stilte te vind. Dit is dan net daar waar die diepste geluk van alles om jou, joune raak.

'n Hut innie Berge:

As jy in die diepste stilte in 'n hut innie berge sit en jy voel alleen (loneliness) - dan spandeer jy tyd saam met iemand van wie se geselsskap jy nie hou nie. "I can't live with myself!!"

As jy in die diepste stilte in 'n hut sit en jy voel baie gelukkig (solitude), dan kan jy nie net die hayena stil kry nie, maar jy het 'n deel van jou 'Inner Self' ontdek - jy het 'n konneksie gemaak met die diepste stilte.

Deur my wandelinge het ek geleer dat jy nie in 'n berg hut hoef te bly om dit te voel nie - jy kan dit enige plek doen. Jy kan in die Diepste Stilte swem - enige plek.

Die Antwoord:

Kyk diep binne jouself .......... in Stilte.