Die laaste tyd loop en mymer ek vreeslik oor die ouder kunste en vaardighede. Ek glo vas dat die gebrek daaraan die rede is vir die Flatwhite westerling se ondergang. Regoor die wêreld probeer die onderdruktes, met 'n laaste asem, aan hulle historiese kunste en vaardighede vashou, net om die jeugdiges op die regte pad te hou. Ek praat nou spesifiek van die American Indian, die Boesman, die Maori en selfs die Australian Aboriginal - net om 'n paar te noem.
In die Boere geskiedenis is daar 'n skeepskis vol juwele wat die tipe van dênge betref, maar ongelukkig het die NP, KP, AWB, PW, FW, ATKV, AGS, KJA en die NGK net vasgehou aan die Voortrekkers en die RBB (Rooi Broederbond Boekie). Sien, as gevolg van aaphaatheid en ook die Boer se skielike oorslaan van 'n ongeletterde boer voor die Boere-oorlog wat op aaptwak rondgehardloop het ..... tot 'n vreeslike geletterde wese - het hy hom afgesny van die fynere historiese kunste en vaardighede wat hom gemaak het wat hy is. Ek glo vas dat dit hierdie skeiding is - 'n vorm van emosionele en sielkundige aaphaatheid wat maak dat die Boer vandag nog steeds nie weet wat en wie hy eintlik is nie.
Wat nog erger is, is dat die swartman in iAfrika nou besig is om dieselfde pad te stap. Fiva die groot blênk motorkar, sonbrêlle en credit card ...... fok alles wat ons was. Dit is altyd 'n hartseer storie as 'n nasie of nasies wegstap van hulle verlede en tradisies en soos 'n blinde rondtas innie toekoms na wie weet waar.
Sien, ek sien die dêng so. 'n Pyl kan nie reguit en akkuraat vlieg na sy teiken toe, sonder vere nie - 'n pyl se agterkant is waar hy vandaan kom, dit wat hom rigting gee. 'n Pyl is nie 'n pyl sonner vere nie, tensy jy 'n Boesman pyl is met 'n helse gifpunt ........ wat net kort afstand georiënteerd is. Selfs die ou Boesman het sy mojo verloor vandag. 'n Pyl kannie sy vere afgooi nie, net soos jy nie jou verlede kan afgooi nie. Net soos 'n pyl, is jy aan die begin met liefde gemaak, kort vasgevat aan jou gat en vasgedruk teen 'n snaar - jy is gelos na 'n spesifieke teiken toe. Jy is op die regte pad gesit. Jy soek na groot bollie deur in die middel van 'n vlug jou pyl-/gatvere af te gooi. Jy sal nêrens eindig nie, net doelloos rondvlieg en eendag reg uit die lug uitval.
Alles wat in die verlede gebeur het, maak jou wat jy is. Die feit dat jy nog hier is beteken dan ten minste iets. Jy kan net 'n pad vorentoe stap deur ALLES te maak van jou gatvere - jy kan dit nie weggooi nie en jy kan dit verseker nie 'ignore' nie.
Die Boere, of liewers sommige van die Boere, het baie en in sekere gevalle, alles geleer van die mense van suidelike Afrika, die diere, die bome en die grond. Die wat niks wou leer nie, het staat gemaak op mense wat die kennis gehad het - of hulle nou wit, swart, geel of bruin was.
As dit nie vir dit was nie, sou die Boere nooit kon doen wat hulle gedoen het in Suidelike Afrika nie en hulle sou nooit 'n dag in die Boere-oorlog oorleef het nie. Die kennis wat hulle gehad het van die bos en veld (bosveld), plante en diere - moet nie die mense te vergeet nie - het die klein nasie 'n groot voorsprong gegee.
Sonder die oudere fynere kunste en vaardighede wat Afrika maak wat sy is, sou ons nie gewees het waar en wat ons is nie. Ek glo vas dat ons probleme begin het, toe ons die hooghartige skeiding begin maak het gedurende en na die Boere-oorlog - die begin van die aaphaatheid besigheid. Dieselfde storie is besig om af te speel in elke Flatwhite westerse landjie.
Noudat almal deur die helvuur is, hulle oorloggies gevoer het, die bloed gestrort het - die land en sy mense gebruik en misbruik het - hulle self afgesny het van hulle geskiedenis en dit wat hulle is ............. nou begin die groot verrotting en verval van groot nasies. Die skuldgevoel steek dwars in die krop van die bedorwe - daar is nou net een pad en dit is ondertoe. Selfs die vogels wat doer bo en hoog vloei, moet een of ander tyd afkom aarde toe om water te drink. Water lê altyd laag en diep en wanneer jy vrek van die dors is en die eerste sluk vat, dan kom jy agter dat jy maar net deel is van grond, plant en dier - jy is nie so uitsonderlik hooghartig spesiaal nie. Jy is maar net 'n deeltjie van die 'bigger picture' - jy is nie eers in beheer nie.
Sodra die moed bymekaar geskraap is, sal ek bietjie griffel oor die oudere kunste en vaardighede wat hoog gehou moet word.
Thursday, July 28, 2011
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
1 comments:
Goed gestel. Ek reken welvaart en gemaksug speel ook 'n groot rol.
Ek moet erken veldkuns leer ook 'n mens om vir jouself te dink. 'n Groot rede vir vandag se kak is ook die mense wat nie vir hulself dink nie en die media slaafs volg.
Indien mense en varal die Boere meer vir hulself gedink het sou baie dinge anders gewees het.
Post a Comment